Monday, December 1, 2014

Nuusbrief - Des 2014






Liewe Kliënte en Assosiate                                                                                                        Desember 2014

2014 snel verby en soos altyd is dit weer ons voorreg om ons praktyk se hoogtepunte van die jaar met julle te deel.

Geen bestaande of nuwe kliënte het hierdie jaar afgetree nie. Nuwe kliënte wat bedank het, het deur middel van verwysings vanaf bestaande kliënte by ons aangesluit. Baie welkom aan julle, ons glo en vertrou ons sal dieselfde waarde kan toevoeg en langtermynverhoudings handhaaf, soos met ons gevestigde kliënte. Baie dankie vir die vertroue en opregte dank vir die verwysings.

Beleggings/ welvaartskepping
Ons is trots en dankbaar dat ons beleggings onder bestuur die afgelope 5 jaar met 36% per jaar gegroei het. Rentekoerse het gedurende die jaar gestyg. Dit is goeie nuus vir persone wat in Geldmarkfondse belê is, maar dit plaas diegene met skuld onder geweldige druk. Geldmarkfondse bied tans rentekoerse van tussen 5-6%, dieselfde as Suid-Afrika se inflasie syfer. Daarom moet daar nie te veel fondse hierin belê word nie. Ons besef ook dat inflasie, oor die algemeen, heelwat hoër is as wat die offisiële syfer aandui. Selfs konserwatiewe verpakkings presteer beter as wat Geldmark bied, soos geïllustreer in onderstaande tabel.

In 2014 is die ekonomiese toestande gekenmerk deur wisselvalligheid. Ons en ekonome is dit eens dat verdere skommelinge in die markte sal plaasvind tydens 2015. Dit is egter hier belangrik om nie kortsigtige besluite te neem nie, maar wel by langtermyn doelwitte te hou. Ons en alle fondsbestuurders beoog om teiken fondsprestasies te behaal, of selfs uit te presteer oor ʼn drie jaar rollende termyn.

Ons portefeuljes se prestasies is uiteengesit in 1 jaar, 3 jaar en 5 jaar termyne. Die groei is die gemiddelde groei per jaar. Geldmark is vergelykbaar met ʼn Konserwatiewe risikoprofiel en JSE ALSI 40 en Satrix 40 is vergelykbaar met ʼn Aggressiewe risikoprofiel. Hierdie prestasies is Netto prestasies.

Risikoprofiel
3 Jaar Teiken Prestasies
1 Jaar
3 Jaar
5 Jaar
Konserwatief
Inflasie + 2%
8%
10.37%
9.97%
Versigtig
Inflasie + 3%
8.62%
11.95%
11.26%
Matig
Inflasie + 5%
10.31%
14.78%
13.32%
Matig aggressief
Inflasie + 7%
13.27%
19.58%
17.24%
Aggressief
Inflasie + 9%
13.8%
20.22%
17.88%
Geldmark

5.47%
5.19%
5.6%
JSE ALSI 40

10.05%
14.52%
12.66%
SATRIX 40

10.28%
15.23%
12.67%

Ons is dankbaar en trots op die beleggingshuise wat ons gebruik vir hul deursigtige werkswyse asook die magdom bruikbare informasie wat hulle verskaf.
Gelukwensinge
Baie geluk aan al ons kliënte wat hulle studies voltooi het. Ons is trots op julle.
Baie geluk aan Dillon Daniels wat sy nasionale kleure in bofbal en sy provinsiale kleure in sagtebal verwerf het. Indien daar van julle is wat prestasies behaal het, stel ons asseblief in kennis sodat ons saam met julle kan trots wees en kan deel met ons kliënte en assosiate.

Inspirasie
Twee jong manne van Hermanus, Josh Henn en André Barnard het hul lewens gewaag deur iemand te red van verdrinking. Julle onbaatsugtige diens is ʼn inspirasie. Gaan kyk gerus na die video:
www.nsri.org.za/2014/02/hermanus-kayak-rescue. Josh se pa, Henk, is al ʼn jarelange kliënt van ons. Henk is self die bevelvoerder van die NSRI op Hermanus.

Studies
Ons hou tred met die voortdurende veranderinge in die bedryf deur gereelde werkswinkels en seminare by te woon. Ons doelwit is om altyd die beste eietydse diens te kan lewer aan ons gewaardeerde kliënte.

Belastingaanslae
Ons het geregistreer as ʼn belasting tegnikus by S.A.I.T. Alle belastingaanslae is reeds vir die jaar suksesvol ingedien en afgehandel. S.A.R.S. raak elke jaar toenemend strenger met die erkenning van aftrekkings. Bewaar asseblief die bewys van betalings vir julle mediese uitgawes vir vyf jaar. Slegs voorgeskrewe medisyne en mediese kostes wat nie deur die mediese fonds gedek is nie kan geëis word. Indien motoruitgawes geëis word, moet ʼn volledige logboek ingedien word. Stuur jul belastingdokumentasie so spoedig as moontlik om die aanslae vroegtydig vir volgende jaar af te handel.

Hartseer
Ons dink aan almal wat deur ʼn krisis gaan soos ʼn egskeiding, siekte of in ʼn ongeluk betrokke was. Ons wens julle voorspoed, beterskap en sterkte toe. Ons dink steeds aan die Koopman- en Labuschagne-families wat ʼn geliefde aan die dood moes afstaan gedurende die jaar. Piet Labuschagne was ʼn vriend van ons familie vir meer as 30 jaar en sal inderdaad gemis word.

Boedels/ testamente
Dankie aan Visagie, Vos en Vennote vir julle kundigheid en persoonlike diens. Soos altyd, kan ons kliënte getuig van flink en professionele afhandeling van boedels. 
ʼn Spesiale woord van dank aan Petri Lourens, senior regsadviseur by Ou Mutual, vir sy kundige advies en beskikbaarheid. Hy doen altyd meer as wat van hom verwag word.

Korttermynversekering
ʼn Onlangse gevallestudie het die rondte gedoen waar ʼn kliënt ʼn vals eis ingedien het en as gevolg daarvan is die eis afgekeur, sy korttermyn gekanselleer en geen ander versekeraar wil hom nou aanvaar nie. Maak asseblief seker alle inligting is waar en korrek wanneer ’n nuwe korttermyn polis uitgeneem word en ook wanneer ’n eis ingedien word.

Ons praktyk se beleid is om die beste, nie noodwendig die goedkoopste, produk vir ons kliënte aan te bied. Een van ons kliënte het in 2009 ʼn inbraak eis gehad. Daar was persoonlike besittings gesteel ter waarde van 
R97 213,53. Die kliënt het R14 698,33 in kontant ontvang en ʼn koopbewys van R82 515,20. Tydens Oktober 2014 is van die items wat in 2009 vervang is weer gesteel. Die kliënt het versoek vir ʼn kontantskikking en daar is ʼn bedrag van R40 723 aan die kliënt uitbetaal. Hiermee bewys dat kliënte moet bly by gevestigde versekeraars. Kommunikeer asseblief met ons indien julle ontevrede is met jul premie/ diens sodat ons dit kan aanspreek. Moet nie net van versekeraars verander sonder om ons te kontak nie. In die meeste gevalle kan ons ʼn plan maak.

Statistieke bewys dat tradisionele versekeraars ten minste ʼn 70% eise uitbetalingsverhouding handhaaf teenoor 52% by direkte versekeraars. Maak asseblief seker dat julle ten alle tye voldoende verseker is. Vervangingswaardes van geboue en huisinhoud neem jaarliks toe en motors se boekwaardes moet jaarliks aangepas word.

Vir navrae tydens die Kerstyd wanneer ons kantore gesluit sal wees:
Mutual & Federal kliënte                    Tel: 021-506 0100 (Eise)
Tel: 0860 247 365 (Na-ure noodgevalle)
                                                            Tel: 0860 637 373 (Navrae)
Santam                                              Tel: 0860 505 911 (Eise en na-ure noodgevalle)
                                                           Tel: 0860 726 826 (Alle navrae en wysigings)
Auto & General                                  Tel: 021-527 8666 (Alle eise, navrae en wysigings)
                                                            Tel: 0860 104 210 (Na-ure noodgevalle)

Lewens-/ ongeskiktheid/ trauma voordele en eise
Ons kantoor bemark nie sekere maatskappye se produkte nie oor etiese redes. Ons kan steeds met trots sê geen polis deur ons bemark se eis was al afgekeur nie. Die versekeringsmaatskappye stel sekere vereistes by veral trauma en ongeskiktheidseise om die eis te kan finaliseer. Wees asseblief geduldig en voorsien die nodige dokumentasie om die proses te bespoedig. Ons bepaal die risikodekking op grond van ʼn Finansiële Behoefte Ontleding (F.N.A.) en hierdie ontleding moet jaarliks hersien word aangesien finansiële situasies voortdurend verander.

Nie-rokers bespaar tot 40% op hulle versekeringspremies. In kliënt Henk Henn se geval het hy R2 000 per maand gespaar toe sy status van roker na nie-roker verander het. Hy moedig dus almal aan om op te hou rook. Baie dankie vir jou voorbeeld, Henk.

Daar is fantastiese nuwe Aftree annuïteite op die mark wat bonusse aan kliënte by hul fondswaardes voeg. Kontak ons vir ʼn voorlegging. Ons sal ook almal se situasies individueel evalueer met ons hersieningsafsprake.

Hersieningsafsprake
Baie dankie vir al ons kliënte wat hul halfjaarlikse of jaarlikse afsprake so getrou nakom. Ons is toegewyd en word verbind in ons diensvlakooreenkoms met julle dat ons dit van ons kant af sal nakom. Dit is belangrik dat ons julle portefeuljes en moontlike veranderde behoeftes sal hersien en aanpas. Dis veral belangrik dat ons beleggingskliënte se portefeuljes hersien en aanpas volgens die risikoprofiel. Ons moedig julle aan om enige veranderinge of vrae voor ons afspraak met ons te bespreek, sodat ons die nodige voorbereidings kan doen. Gaan julle bankstate noukeurig na of vra ons hulp om seker te maak geen aftrekkings word verhaal sonder julle medewete nie.

Webtuiste
Besoek gerus ons webtuiste: www.tvzfinancialservices.co.za en lewer kommentaar op ons Facebook bladsy. Baie dankie aan Tina Vlok van www.berryweb.co.za wat ons webtuiste ontwerp het en voortdurend bystaan.
Dankie vir al die terugvoering vanaf ons kliënte. Jul terugvoering stel ons in staat om ons diens te verbeter.


Agter die skerms
Ons het vir baie jare nou saamgewerk met ʼn groot pensioenfonds. Ons het onder andere vir die werknemersverskillende risikoprofiele geskep. Baie dankie vir julle positiewe terugvoering.

Ons kliënte is ook positief oor die verbeterde Finansiële Behoefte Ontledingsprogram asook die beleggings se sigblaaie wat rand/ sente na kostes duidelik uiteensit.

Daar is ongelukkig steeds “onetiese” adviseurs wat kliënte se pensioenfondse teiken, ongegronde advies gee en polisse voortdurend skuif sonder goeie rede. Die Raad van Finansiële Dienste (F.S.B.) se beginsels is nou gepubliseer om die wanpraktyke te staak. Ons ondersteun die voorstelle ten volle vir ʼn professionele bedryf.

Voldoening
Masthead is steeds die grootste netwerk van makelaars en ons werk nou saam om ons bedryf deurlopend te verbeter. Dankie vir Herman Hesse, ons voldoeningsbeampte, wat ons voldoening kwartaalliks monitor.
Dankie ook vir Anzel Jewaskiewitz, ons praktykbestuurder. Ons is besonder trots op ons besigheidsontwikkelingsverslag waar ons 96% behaal het en die eerste keer vir Kliëntetevredenheid (Client Fulfillment) 100%.

Persoonlik
Ons dogter, Kirsten, was vir ʼn jaar in ons diens om al ons kliënte se afgehandelde dokumentasie elektronies te skandeer. Die projek is suksesvol afgehandel en sy werk nou in Amerika. Vir die eerste keer in 33 jaar is die van Zyl huishouding nou sonder kinders. Elmarie, wat die korttermyn hanteer, sal weer volgende jaar in die oggende werk van 8:00 – 13:00. Elmarie werk alreeds 15 jaar by ons en Janneri sal Januarie 2015 10 jaar by Toni van Zyl Finansiële Dienste wees. Ons waardeer en is dankbaar vir jul toegewyde en getroue diens.

Ons waardeer al ons kliënte en is dankbaar ons besigheid groei steeds elke jaar. Ons is positief en sien geweldig uit na 2015 met sy nuwe uitdagings.
Ons kantore sluit op 19 Desember en heropen 5 Januarie 2015. Ons sien uit na die ruskansie.

Geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar!
Baie groete
Van ons almal by Toni van Zyl Finansiële Dienste

Tuesday, December 31, 2013

Nuusbrief 2013



Liewe Kliënte en Assosiate                                                                               Desember 2013

2013 is amper op sy einde en dis weer tyd vir ons jaarlikse nuusbrief. Ons praktyk is elke jaar opgewonde om die hoogtepunte van die jaar met julle te deel.

‘n Hartlike welkom aan al ons nuwe kliënte, ons glo en vertrou ons sal dieselfde waarde kan toevoeg en langtermynverhoudings handhaaf soos met ons bestaande kliënte. Al ons nuwe kliënte is verwysings. Baie dankie vir die vertroue en ondersteuning.

Ons het weer kliënte wat afgetree het hierdie jaar. Ons wens julle voorspoed toe vir hierdie fase in jul lewens en wil julle aanmoedig om die nuutgevonde en welverdiende tyd effektief te gebruik tot voordeel van die gemeenskap en ander se lewens.
Baie dankie vir al die kliënte wat hulle halfjaarlikse of jaarlikse hersieningsafsprake so getrou nakom. Dit is vir ons belangrik om julle portefeuljes en behoeftes te hersien en aan te pas in ‘n omgewing wat voordurend verander. Laat weet ons asseblief in geval van enige veranderinge in julle situasie, veral voor ‘n hersieningsafspraak, sodat ons dit ook in ag kan neem met die afspraak.

Ons is baie trots op ons kliënte wat hul studies voltooi het. Indien julle op soek is na werksgeleenthede stuur julle CV’s vir ons aan sodat ons dit na potensiële werkgewers kan aanstuur. Voorheen kon ons al help met suksesvolle aanstellings.

Ons waardeer en moedig terugvoering aan om ons praktyk voortdurend te verbeter. Baie dankie vir die e-posse wat ons deurgaans ontvang.

Antoni het ‘n sigblad vir ons beleggingskliënte ontwerp om fondsprestasies en groei duidelik uit te beeld. Ons kry baie goeie terugvoering. Ons Finansiële Behoefte Ontledingsprogram (F.N.A.) is ook uitgebrei wat kliënte se finansiële doelwitte en behoeftes ontleed.

Hartseer
Ons dink aan die families wat deur egskeidings gegaan het hierdie jaar. 
Ons is hartseer met die afsterwe van Oom Raymond la Grange met wie ons 15 jaar saamgewerk het – dit was ‘n voorreg om Tannie la Grange en familie te kon bystaan met sy siekte en afsterwe. Dankie vir Marius se mooi bedankingswoorde by die roudiens.
Ons dink ook aan die Laing-familie met hulle verlies en wens hulle alles van die beste toe.
Sterkte aan almal wat met ernstige fisiese of geestelike siektes gediagnoseer is - ‘n spoedige beterskap vir julle.

Inspirasie
Tannie Sarie Lombard is skielik na ‘n val met Alzheimer’s gediagnoseer en in Geluksoord opgeneem. Voor die siekte het sy gedurig bejaardes wat nie self kan bestuur nie vervoer na klinieke. Sy het elke week die gimnasium besoek en geswem op 83 jarige ouderdom.
Voor Oom Raymond la Grange se dood het hy getrou pasiënte na die Wynberg Millitêre Hospitaal vervoer. Hy het deurgaans mense bygestaan en was 77 jaar oud.
Baie dankie, julle is ‘n voorbeeld en inspirasie vir ons almal.
Ons het by ons sakekamer aangesluit en raak betrokke deur maandeliks ons strande skoon te maak en met ander liefdadigheids inisiatiewe. Ons moedig julle aan om soortgelyke projekte aan te pak.

2013 terugblik
Ons is baie opgewonde oor ons nuwe webtuiste – www.tvzfinancialservices.co.za. Besoek ons gerus en lewer kommentaar op ons Facebook bladsy. Baie dankie vir Tina Vlok (www.berryweb.co.za) vir al die harde werk. Ons het ook ons kliënte leêrs verpersoonlik.

Studies
Ons hou tred met die voorskriftelike studies en werkswinkels om op hoogte te bly met veranderinge in die bedryf. Voorspoed aan Antoni wat sy studies wil voorsit in 2014 as ‘n Finansiële en Beleggings Analis.

Belastingaanslae
Die belastingaanslae is suksesvol ingedien en afgehandel. E-filing is ‘n aanwins en groot verbetering op vorige jare se prosesse. Hierdie jaar het SARS meestal kliënte met motortoelae en hoë motoruitgawes geoudit. Hou asseblief julle logboeke op datum en stuur jul belastingdokumentasie na ons so spoedig as moontlik om die aanslae vroegtydig vir volgende jaar af te handel.
As gevolg van veranderde wetgewings vir belastingpraktisyns sal ons moontlik nuwe ooreenkomste in die toekoms moet aangaan, ons sal julle op hoogte hou.

Korttermynversekering
Baie dankie vir Elmarie vir haar harde werk met die oorneem van Hannes Borman se kliënte met sy aftrede.
Gerugte doen die rondte dat die tradisionele versekeraars soos Mutual & Federal en Santam onder finansiële druk is hoofsaaklik as gevolg van makelaars wat kwantiteit in plaas van kwaliteit bemark. Ons praktyk se beleid is om die beste, nie noodwendig die goedkoopste, produk vir ons kliënte aan te bied.

Statistieke bewys dat tradisionele versekeraars ten minste ‘n 70% eise uitbetalingsverhouding handhaaf teenoor 52% by direkte versekeraars. Goedkoper premies kan jou dus duur te staan kom op eise stadium, juis die doel van versekering.
Vir ons eie integriteit en etiese redes verkoop en bemark ons nie sekere maatskappye se produkte nie. Ons werk slegs met maatskappye wat ‘n goeie geskiedenis met eise uitbetalings handhaaf. Maak seker die goedkoper versekering bied dieselfde dekking as jou huidige versekering.

Ons sal julle elke jaar kontak met hernuwing om jul polis te bespreek maar indien enige iets vooraf verander kontak ons asseblief.

Vir navrae tydens die Kerstyd wanneer ons kantore gesluit is:
Mutual & Federal kliënte              Tel: 021-506 0100 (Eise)
Tel: 0860 247 365 (Na ure noodgevalle)
                                                Tel: 0860 637 373 (Navrae)
Santam                                    Tel: 0860 505 911 (Eise en na ure noodgevalle)
                                               Tel: 0860 726 826 (Alle navrae en wysigings)
Auto & General                          Tel: 021-527 8666 (Alle eise, navrae en wysigings)
                                                Tel: 0860 104 210 (Na ure noodgevalle)
   
Boedels/ testamente
Met ‘n werklike gevallestudie is ‘n kliënt se testament by die bank na vier verskillende boedelbeamptes aangestuur voordat ‘n boedelbeampte aangewys is. Dit ly tot vertragings met die afhandeling van die boedel. Maak seker julle testament word jaarliks hersien. Dieselfde bank was nie bereid om enige afslagte te gee op eksekuteursfooie nie. Ons werk met gerespekteerde prokureurs wat die testamente opstel en sonder kostes stoor. Kontak ons gerus vir verdere navrae.

Daar is ook gevalle waar ‘n geliefde tot sterwe gekom het en die naasbestaandes nie die testament, of ander persoonlike dokumentasie soos die huweliksertifikaat, ens. kon opspoor nie. Bêre al die dokumentasie bymekaar of ons kan dit ook elektronies namens julle stoor. Dit sal tyd en frustrasie spaar wanneer eise hanteer moet word.

Dankie vir Visagie, Vos en Vennote en ons produkverskaffers se regsadviseurs, in besonder Petri Lourens, vir julle kundigheid en persoonlike diens.

Beleggings/ welvaartskepping
2013 is gekenmerk deur volgehoue lae rentekoerse en goeie aandele prestasies. Ekonome voorspel dat opbrengste swakker gaan wees in 2014 en rentekoerse gaan in die laaste kwartaal styg. Dit is ons grootste uitdaging om die beste en mees suksesvolle fondsbestuurders te kies. Statistieke wys dat kliënte met adviseurs gemiddeld 1,8% beter opbrengste per jaar behaal as wanneer beleggings self bestuur word. Ons is trots en dankbaar dat ons die persentasie met gemak klop.
Ons portefeuljes het as volg presteer:
Risikoprofiel
2012
2013
Konserwatief
11%
10,13%
Versigtig
12,2%
13,89%
Matig
13,7%
17,07%
Matig aggressief
16,6%
22,36%
Dankie vir die konsultante, fondsbestuurders en veral Antoni in ons kantoor vir die harde werk en bystand. Julle is welkom om persone naby aftrede te verwys vir ‘n gratis voorlegging. Kliënte op aftrede het beslis professionele hulp nodig om die regte keuse uit te oefen. Die verkeerde advies/ besluit kan verreikende gevolge hê.

Lewens-/ ongeskiktheid/ trauma voordele
In 2012 het die bedryf R263,2 miljard se eise uitbetaal. Slegs R699,9 miljoen se eise is nie uitbetaal nie, hoofsaaklik as gevolg van bedrog en wanvoorstellings. Ons kan met trots sê geen kliënt se eis by ons is al afgekeur nie. Wees dus geduldig met ons met die mediese vereistes, ons sal graag ons rekord wil behou in ons kliënte se belang.

Dit is onder ons aandag gebring dat sekere adviseurs steeds kliënte se polisse elke twee jaar (nadat hulle volle kommissie ontvang het) vervang met nuwe polisse. Daar is wel nuwe generasie produkte wat beter is as die ou produkte, en word dan geskuif in die kliënte se belang. Kry ‘n onafhanklike mening en rapporteer by die FSB as daar onreëlmatig opgetree word.

Ons het opgetel met die nagaan van kliënte se bankstate dat kliënte begrafnispolisse en hospitaalplanne besit waarvan hul nie bewus is nie. In sekere gevalle is daar, sonder die medewete van die kliënte, werknemers van die betrokke maatskappye as begunstigdes aangestel. Gaan asseblief julle bankstate noukeurig deur, of laat ons dit saam met julle doen met ons jaarlikse hersieningsafspraak.

Daar is baie bemarkingsmateriaal wat fokus op premie terugbetalings na ‘n aantal jare. Wees asb. versigtig vir hierdie produkte, aangesien daar baie voorwaardes betrokke is met sulke uitbetalings. Ons het ook gevind dat in die meeste gevalle is die maandelikse premies heelwat duurder as normaalweg. As ‘n kliënt die verskil in premie belê oor dieselfde termyn, sal die kliënt hoogswaarskynlik meer geld terugkry as die uitbetaling, en dit is nie voorwaardelik nie.

Ons werkslas het aansienlik toegeneem met versoeke vir bewys van inkomstes vir onder andere munisipale rekenings wat ons halfjaarliks of jaarliks moet stuur, dikwels op kort kennisgewing.

Persoonlik
Janneri is weer voltyds terug na haar kraamverlof en Elmarie werk tussen 12h00 – 16h00. Ons dogter, Kirsten help ons weer deeltyds uit met ons werkslas tot sy haar studies voltooi. Ons kleindogter, Anja, is gebore op 29 Desember 2012 en bring ons groot vreugde.

Ons kliëntebasis groei steeds jaarliks. Baie dankie vir elke kliënt se aandeel hierin, ons waardeer elkeen van julle.
Ons is positief en sien uit na 2014. Ons kantore sal gesluit wees vanaf 23 Desember en sal heropen op 6 Januarie 2014. Ons gaan die kort ruskansie gebruik om die ‘batterye te herlaai’.

Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwejaar!
Baie groete
Van ons almal by Toni van Zyl Finansiële Dienste