Liewe Kliënte en Assosiate Desember 2013
2013 is amper op sy einde en dis weer tyd vir ons jaarlikse nuusbrief. Ons
praktyk is elke jaar opgewonde om die hoogtepunte van die jaar met julle te
deel.
‘n Hartlike welkom aan al ons nuwe kliënte, ons glo en vertrou ons sal
dieselfde waarde kan toevoeg en langtermynverhoudings handhaaf soos met ons
bestaande kliënte. Al ons nuwe kliënte is verwysings. Baie dankie vir die
vertroue en ondersteuning.
Ons het weer kliënte wat afgetree het hierdie jaar. Ons wens julle
voorspoed toe vir hierdie fase in jul lewens en wil julle aanmoedig om die
nuutgevonde en welverdiende tyd effektief te gebruik tot voordeel van die
gemeenskap en ander se lewens.
Baie dankie vir al die kliënte wat hulle halfjaarlikse of jaarlikse
hersieningsafsprake so getrou nakom. Dit is vir ons belangrik om julle
portefeuljes en behoeftes te hersien en aan te pas in ‘n omgewing wat
voordurend verander. Laat weet ons asseblief in geval van enige veranderinge in
julle situasie, veral voor ‘n hersieningsafspraak, sodat ons dit ook in ag kan
neem met die afspraak.
Ons is baie trots op ons kliënte wat hul studies voltooi het. Indien julle
op soek is na werksgeleenthede stuur julle CV’s vir ons aan sodat ons dit na
potensiële werkgewers kan aanstuur. Voorheen kon ons al help met suksesvolle
aanstellings.
Ons waardeer en moedig terugvoering aan om ons praktyk voortdurend te
verbeter. Baie dankie vir die e-posse wat ons deurgaans ontvang.
Antoni het ‘n sigblad vir ons beleggingskliënte ontwerp om fondsprestasies
en groei duidelik uit te beeld. Ons kry baie goeie terugvoering. Ons Finansiële
Behoefte Ontledingsprogram (F.N.A.) is ook uitgebrei wat kliënte se finansiële
doelwitte en behoeftes ontleed.
Hartseer
Ons dink aan die families wat deur egskeidings gegaan het hierdie jaar.
Ons is hartseer met die afsterwe van Oom Raymond la Grange met wie ons 15
jaar saamgewerk het – dit was ‘n voorreg om Tannie la Grange en familie te kon
bystaan met sy siekte en afsterwe. Dankie vir Marius se mooi bedankingswoorde
by die roudiens.
Ons dink ook aan die Laing-familie met hulle verlies en wens hulle alles
van die beste toe.
Sterkte aan almal wat met ernstige fisiese of geestelike siektes gediagnoseer
is - ‘n spoedige beterskap vir julle.
Inspirasie
Tannie Sarie
Lombard is skielik na ‘n val met Alzheimer’s gediagnoseer en in Geluksoord
opgeneem. Voor die siekte het sy gedurig bejaardes wat nie self kan bestuur nie
vervoer na klinieke. Sy het elke week die gimnasium besoek en geswem op 83
jarige ouderdom.
Voor Oom Raymond
la Grange se dood het hy getrou pasiënte na die Wynberg Millitêre Hospitaal
vervoer. Hy het deurgaans mense bygestaan en was 77 jaar oud.
Baie dankie, julle
is ‘n voorbeeld en inspirasie vir ons almal.
Ons het by ons
sakekamer aangesluit en raak betrokke deur maandeliks ons strande skoon te maak
en met ander liefdadigheids inisiatiewe. Ons moedig julle aan om soortgelyke
projekte aan te pak.
2013 terugblik
Ons is baie opgewonde
oor ons nuwe webtuiste – www.tvzfinancialservices.co.za. Besoek ons gerus en lewer kommentaar op ons Facebook
bladsy. Baie dankie vir Tina Vlok (www.berryweb.co.za) vir al die harde werk. Ons
het ook ons kliënte leêrs verpersoonlik.
Studies
Ons hou tred met die
voorskriftelike studies en werkswinkels om op hoogte te bly met veranderinge in
die bedryf. Voorspoed aan Antoni wat sy studies wil voorsit in 2014 as ‘n
Finansiële en Beleggings Analis.
Belastingaanslae
Die
belastingaanslae is suksesvol ingedien en afgehandel. E-filing is ‘n aanwins en groot verbetering op vorige jare se
prosesse. Hierdie jaar het SARS meestal kliënte met motortoelae en hoë
motoruitgawes geoudit. Hou asseblief julle logboeke op datum en stuur jul
belastingdokumentasie na ons so spoedig as moontlik om die aanslae vroegtydig vir
volgende jaar af te handel.
As gevolg van
veranderde wetgewings vir belastingpraktisyns sal ons moontlik nuwe
ooreenkomste in die toekoms moet aangaan, ons sal julle op hoogte hou.
Korttermynversekering
Baie dankie vir
Elmarie vir haar harde werk met die oorneem van Hannes Borman se kliënte met sy
aftrede.
Gerugte doen die
rondte dat die tradisionele versekeraars soos Mutual & Federal en Santam onder
finansiële druk is hoofsaaklik as gevolg van makelaars wat kwantiteit in plaas
van kwaliteit bemark. Ons praktyk se beleid is om die beste, nie noodwendig die
goedkoopste, produk vir ons kliënte aan te bied.
Statistieke bewys
dat tradisionele versekeraars ten minste ‘n 70% eise uitbetalingsverhouding
handhaaf teenoor 52% by direkte versekeraars. Goedkoper premies kan jou dus duur
te staan kom op eise stadium, juis die doel van versekering.
Vir ons eie integriteit
en etiese redes verkoop en bemark ons nie sekere maatskappye se produkte nie. Ons
werk slegs met maatskappye wat ‘n goeie geskiedenis met eise uitbetalings
handhaaf. Maak seker die goedkoper versekering bied dieselfde dekking as jou
huidige versekering.
Ons sal julle
elke jaar kontak met hernuwing om jul polis te bespreek maar indien enige iets
vooraf verander kontak ons asseblief.
Vir navrae
tydens die Kerstyd wanneer ons kantore gesluit is:
Mutual &
Federal kliënte Tel: 021-506 0100 (Eise)
Tel: 0860 247 365 (Na ure noodgevalle)
Tel:
0860 637 373 (Navrae)
Santam Tel:
0860 505 911 (Eise en na ure noodgevalle)
Tel:
0860 726 826 (Alle navrae en wysigings)
Auto & General Tel:
021-527 8666 (Alle eise, navrae en wysigings)
Tel:
0860 104 210 (Na ure noodgevalle)
Boedels/ testamente
Met ‘n werklike
gevallestudie is ‘n kliënt se testament by die bank na vier verskillende
boedelbeamptes aangestuur voordat ‘n boedelbeampte aangewys is. Dit ly tot
vertragings met die afhandeling van die boedel. Maak seker julle testament word
jaarliks hersien. Dieselfde bank was nie bereid om enige afslagte te gee op
eksekuteursfooie nie. Ons werk met gerespekteerde prokureurs wat die testamente
opstel en sonder kostes stoor. Kontak ons gerus vir verdere navrae.
Daar is ook
gevalle waar ‘n geliefde tot sterwe gekom het en die naasbestaandes nie die
testament, of ander persoonlike dokumentasie soos die huweliksertifikaat, ens. kon
opspoor nie. Bêre al die dokumentasie bymekaar of ons kan dit ook elektronies
namens julle stoor. Dit sal tyd en frustrasie spaar wanneer eise hanteer moet
word.
Dankie vir
Visagie, Vos en Vennote en ons produkverskaffers se regsadviseurs, in besonder
Petri Lourens, vir julle kundigheid en persoonlike diens.
Beleggings/ welvaartskepping
2013 is gekenmerk
deur volgehoue lae rentekoerse en goeie aandele prestasies. Ekonome voorspel
dat opbrengste swakker gaan wees in 2014 en rentekoerse gaan in die laaste
kwartaal styg. Dit is ons grootste
uitdaging om die beste en mees suksesvolle fondsbestuurders te kies.
Statistieke wys dat kliënte met adviseurs gemiddeld 1,8% beter opbrengste per
jaar behaal as wanneer beleggings self bestuur word. Ons is trots en dankbaar dat ons die persentasie met gemak klop.
Ons portefeuljes
het as volg presteer:
Risikoprofiel
|
2012
|
2013
|
Konserwatief
|
11%
|
10,13%
|
Versigtig
|
12,2%
|
13,89%
|
Matig
|
13,7%
|
17,07%
|
Matig
aggressief
|
16,6%
|
22,36%
|
Dankie vir die
konsultante, fondsbestuurders en veral Antoni in ons kantoor vir die harde werk
en bystand. Julle is welkom om persone naby aftrede te verwys vir ‘n gratis
voorlegging. Kliënte op aftrede het beslis professionele hulp nodig om die
regte keuse uit te oefen. Die verkeerde advies/ besluit kan verreikende gevolge
hê.
Lewens-/ ongeskiktheid/ trauma voordele
In 2012 het die
bedryf R263,2 miljard se eise uitbetaal. Slegs R699,9 miljoen se eise is nie
uitbetaal nie, hoofsaaklik as gevolg van bedrog en wanvoorstellings. Ons kan met trots sê geen kliënt se eis by
ons is al afgekeur nie. Wees dus geduldig met ons met die mediese vereistes,
ons sal graag ons rekord wil behou in ons kliënte
se belang.
Dit is onder ons
aandag gebring dat sekere adviseurs steeds kliënte se polisse elke twee jaar
(nadat hulle volle kommissie ontvang het) vervang met nuwe polisse. Daar is wel
nuwe generasie produkte wat beter is as die ou produkte, en word dan geskuif in
die kliënte se belang. Kry ‘n onafhanklike mening en rapporteer by die FSB as
daar onreëlmatig opgetree word.
Ons het opgetel
met die nagaan van kliënte se bankstate dat kliënte begrafnispolisse en
hospitaalplanne besit waarvan hul nie bewus is nie. In sekere gevalle is daar,
sonder die medewete van die kliënte, werknemers van die betrokke maatskappye as
begunstigdes aangestel. Gaan asseblief julle bankstate noukeurig deur, of laat
ons dit saam met julle doen met ons jaarlikse hersieningsafspraak.
Daar is baie
bemarkingsmateriaal wat fokus op premie terugbetalings na ‘n aantal jare. Wees
asb. versigtig vir hierdie produkte, aangesien daar baie voorwaardes betrokke
is met sulke uitbetalings. Ons het ook gevind dat in die meeste gevalle is die
maandelikse premies heelwat duurder as normaalweg. As ‘n kliënt die verskil in
premie belê oor dieselfde termyn, sal die kliënt hoogswaarskynlik meer geld
terugkry as die uitbetaling, en dit is nie voorwaardelik nie.
Ons werkslas het
aansienlik toegeneem met versoeke vir bewys van inkomstes vir onder andere
munisipale rekenings wat ons halfjaarliks of jaarliks moet stuur, dikwels op
kort kennisgewing.
Persoonlik
Janneri is weer
voltyds terug na haar kraamverlof en Elmarie werk tussen 12h00 – 16h00. Ons
dogter, Kirsten help ons weer deeltyds uit met ons werkslas tot sy haar studies
voltooi. Ons kleindogter, Anja, is gebore op 29 Desember 2012 en bring ons
groot vreugde.
Ons kliëntebasis
groei steeds jaarliks. Baie dankie vir elke kliënt se aandeel hierin, ons
waardeer elkeen van julle.
Ons is positief
en sien uit na 2014. Ons kantore sal gesluit wees vanaf 23 Desember en sal
heropen op 6 Januarie 2014. Ons gaan die kort ruskansie gebruik om die ‘batterye
te herlaai’.
Geseënde Kersfees
en voorspoedige nuwejaar!
Baie groete
Van ons almal by Toni van Zyl Finansiële Dienste