Tuesday, December 31, 2013

Nuusbrief 2013



Liewe Kliënte en Assosiate                                                                               Desember 2013

2013 is amper op sy einde en dis weer tyd vir ons jaarlikse nuusbrief. Ons praktyk is elke jaar opgewonde om die hoogtepunte van die jaar met julle te deel.

‘n Hartlike welkom aan al ons nuwe kliënte, ons glo en vertrou ons sal dieselfde waarde kan toevoeg en langtermynverhoudings handhaaf soos met ons bestaande kliënte. Al ons nuwe kliënte is verwysings. Baie dankie vir die vertroue en ondersteuning.

Ons het weer kliënte wat afgetree het hierdie jaar. Ons wens julle voorspoed toe vir hierdie fase in jul lewens en wil julle aanmoedig om die nuutgevonde en welverdiende tyd effektief te gebruik tot voordeel van die gemeenskap en ander se lewens.
Baie dankie vir al die kliënte wat hulle halfjaarlikse of jaarlikse hersieningsafsprake so getrou nakom. Dit is vir ons belangrik om julle portefeuljes en behoeftes te hersien en aan te pas in ‘n omgewing wat voordurend verander. Laat weet ons asseblief in geval van enige veranderinge in julle situasie, veral voor ‘n hersieningsafspraak, sodat ons dit ook in ag kan neem met die afspraak.

Ons is baie trots op ons kliënte wat hul studies voltooi het. Indien julle op soek is na werksgeleenthede stuur julle CV’s vir ons aan sodat ons dit na potensiële werkgewers kan aanstuur. Voorheen kon ons al help met suksesvolle aanstellings.

Ons waardeer en moedig terugvoering aan om ons praktyk voortdurend te verbeter. Baie dankie vir die e-posse wat ons deurgaans ontvang.

Antoni het ‘n sigblad vir ons beleggingskliënte ontwerp om fondsprestasies en groei duidelik uit te beeld. Ons kry baie goeie terugvoering. Ons Finansiële Behoefte Ontledingsprogram (F.N.A.) is ook uitgebrei wat kliënte se finansiële doelwitte en behoeftes ontleed.

Hartseer
Ons dink aan die families wat deur egskeidings gegaan het hierdie jaar. 
Ons is hartseer met die afsterwe van Oom Raymond la Grange met wie ons 15 jaar saamgewerk het – dit was ‘n voorreg om Tannie la Grange en familie te kon bystaan met sy siekte en afsterwe. Dankie vir Marius se mooi bedankingswoorde by die roudiens.
Ons dink ook aan die Laing-familie met hulle verlies en wens hulle alles van die beste toe.
Sterkte aan almal wat met ernstige fisiese of geestelike siektes gediagnoseer is - ‘n spoedige beterskap vir julle.

Inspirasie
Tannie Sarie Lombard is skielik na ‘n val met Alzheimer’s gediagnoseer en in Geluksoord opgeneem. Voor die siekte het sy gedurig bejaardes wat nie self kan bestuur nie vervoer na klinieke. Sy het elke week die gimnasium besoek en geswem op 83 jarige ouderdom.
Voor Oom Raymond la Grange se dood het hy getrou pasiënte na die Wynberg Millitêre Hospitaal vervoer. Hy het deurgaans mense bygestaan en was 77 jaar oud.
Baie dankie, julle is ‘n voorbeeld en inspirasie vir ons almal.
Ons het by ons sakekamer aangesluit en raak betrokke deur maandeliks ons strande skoon te maak en met ander liefdadigheids inisiatiewe. Ons moedig julle aan om soortgelyke projekte aan te pak.

2013 terugblik
Ons is baie opgewonde oor ons nuwe webtuiste – www.tvzfinancialservices.co.za. Besoek ons gerus en lewer kommentaar op ons Facebook bladsy. Baie dankie vir Tina Vlok (www.berryweb.co.za) vir al die harde werk. Ons het ook ons kliënte leêrs verpersoonlik.

Studies
Ons hou tred met die voorskriftelike studies en werkswinkels om op hoogte te bly met veranderinge in die bedryf. Voorspoed aan Antoni wat sy studies wil voorsit in 2014 as ‘n Finansiële en Beleggings Analis.

Belastingaanslae
Die belastingaanslae is suksesvol ingedien en afgehandel. E-filing is ‘n aanwins en groot verbetering op vorige jare se prosesse. Hierdie jaar het SARS meestal kliënte met motortoelae en hoë motoruitgawes geoudit. Hou asseblief julle logboeke op datum en stuur jul belastingdokumentasie na ons so spoedig as moontlik om die aanslae vroegtydig vir volgende jaar af te handel.
As gevolg van veranderde wetgewings vir belastingpraktisyns sal ons moontlik nuwe ooreenkomste in die toekoms moet aangaan, ons sal julle op hoogte hou.

Korttermynversekering
Baie dankie vir Elmarie vir haar harde werk met die oorneem van Hannes Borman se kliënte met sy aftrede.
Gerugte doen die rondte dat die tradisionele versekeraars soos Mutual & Federal en Santam onder finansiële druk is hoofsaaklik as gevolg van makelaars wat kwantiteit in plaas van kwaliteit bemark. Ons praktyk se beleid is om die beste, nie noodwendig die goedkoopste, produk vir ons kliënte aan te bied.

Statistieke bewys dat tradisionele versekeraars ten minste ‘n 70% eise uitbetalingsverhouding handhaaf teenoor 52% by direkte versekeraars. Goedkoper premies kan jou dus duur te staan kom op eise stadium, juis die doel van versekering.
Vir ons eie integriteit en etiese redes verkoop en bemark ons nie sekere maatskappye se produkte nie. Ons werk slegs met maatskappye wat ‘n goeie geskiedenis met eise uitbetalings handhaaf. Maak seker die goedkoper versekering bied dieselfde dekking as jou huidige versekering.

Ons sal julle elke jaar kontak met hernuwing om jul polis te bespreek maar indien enige iets vooraf verander kontak ons asseblief.

Vir navrae tydens die Kerstyd wanneer ons kantore gesluit is:
Mutual & Federal kliënte              Tel: 021-506 0100 (Eise)
Tel: 0860 247 365 (Na ure noodgevalle)
                                                Tel: 0860 637 373 (Navrae)
Santam                                    Tel: 0860 505 911 (Eise en na ure noodgevalle)
                                               Tel: 0860 726 826 (Alle navrae en wysigings)
Auto & General                          Tel: 021-527 8666 (Alle eise, navrae en wysigings)
                                                Tel: 0860 104 210 (Na ure noodgevalle)
   
Boedels/ testamente
Met ‘n werklike gevallestudie is ‘n kliënt se testament by die bank na vier verskillende boedelbeamptes aangestuur voordat ‘n boedelbeampte aangewys is. Dit ly tot vertragings met die afhandeling van die boedel. Maak seker julle testament word jaarliks hersien. Dieselfde bank was nie bereid om enige afslagte te gee op eksekuteursfooie nie. Ons werk met gerespekteerde prokureurs wat die testamente opstel en sonder kostes stoor. Kontak ons gerus vir verdere navrae.

Daar is ook gevalle waar ‘n geliefde tot sterwe gekom het en die naasbestaandes nie die testament, of ander persoonlike dokumentasie soos die huweliksertifikaat, ens. kon opspoor nie. Bêre al die dokumentasie bymekaar of ons kan dit ook elektronies namens julle stoor. Dit sal tyd en frustrasie spaar wanneer eise hanteer moet word.

Dankie vir Visagie, Vos en Vennote en ons produkverskaffers se regsadviseurs, in besonder Petri Lourens, vir julle kundigheid en persoonlike diens.

Beleggings/ welvaartskepping
2013 is gekenmerk deur volgehoue lae rentekoerse en goeie aandele prestasies. Ekonome voorspel dat opbrengste swakker gaan wees in 2014 en rentekoerse gaan in die laaste kwartaal styg. Dit is ons grootste uitdaging om die beste en mees suksesvolle fondsbestuurders te kies. Statistieke wys dat kliënte met adviseurs gemiddeld 1,8% beter opbrengste per jaar behaal as wanneer beleggings self bestuur word. Ons is trots en dankbaar dat ons die persentasie met gemak klop.
Ons portefeuljes het as volg presteer:
Risikoprofiel
2012
2013
Konserwatief
11%
10,13%
Versigtig
12,2%
13,89%
Matig
13,7%
17,07%
Matig aggressief
16,6%
22,36%
Dankie vir die konsultante, fondsbestuurders en veral Antoni in ons kantoor vir die harde werk en bystand. Julle is welkom om persone naby aftrede te verwys vir ‘n gratis voorlegging. Kliënte op aftrede het beslis professionele hulp nodig om die regte keuse uit te oefen. Die verkeerde advies/ besluit kan verreikende gevolge hê.

Lewens-/ ongeskiktheid/ trauma voordele
In 2012 het die bedryf R263,2 miljard se eise uitbetaal. Slegs R699,9 miljoen se eise is nie uitbetaal nie, hoofsaaklik as gevolg van bedrog en wanvoorstellings. Ons kan met trots sê geen kliënt se eis by ons is al afgekeur nie. Wees dus geduldig met ons met die mediese vereistes, ons sal graag ons rekord wil behou in ons kliënte se belang.

Dit is onder ons aandag gebring dat sekere adviseurs steeds kliënte se polisse elke twee jaar (nadat hulle volle kommissie ontvang het) vervang met nuwe polisse. Daar is wel nuwe generasie produkte wat beter is as die ou produkte, en word dan geskuif in die kliënte se belang. Kry ‘n onafhanklike mening en rapporteer by die FSB as daar onreëlmatig opgetree word.

Ons het opgetel met die nagaan van kliënte se bankstate dat kliënte begrafnispolisse en hospitaalplanne besit waarvan hul nie bewus is nie. In sekere gevalle is daar, sonder die medewete van die kliënte, werknemers van die betrokke maatskappye as begunstigdes aangestel. Gaan asseblief julle bankstate noukeurig deur, of laat ons dit saam met julle doen met ons jaarlikse hersieningsafspraak.

Daar is baie bemarkingsmateriaal wat fokus op premie terugbetalings na ‘n aantal jare. Wees asb. versigtig vir hierdie produkte, aangesien daar baie voorwaardes betrokke is met sulke uitbetalings. Ons het ook gevind dat in die meeste gevalle is die maandelikse premies heelwat duurder as normaalweg. As ‘n kliënt die verskil in premie belê oor dieselfde termyn, sal die kliënt hoogswaarskynlik meer geld terugkry as die uitbetaling, en dit is nie voorwaardelik nie.

Ons werkslas het aansienlik toegeneem met versoeke vir bewys van inkomstes vir onder andere munisipale rekenings wat ons halfjaarliks of jaarliks moet stuur, dikwels op kort kennisgewing.

Persoonlik
Janneri is weer voltyds terug na haar kraamverlof en Elmarie werk tussen 12h00 – 16h00. Ons dogter, Kirsten help ons weer deeltyds uit met ons werkslas tot sy haar studies voltooi. Ons kleindogter, Anja, is gebore op 29 Desember 2012 en bring ons groot vreugde.

Ons kliëntebasis groei steeds jaarliks. Baie dankie vir elke kliënt se aandeel hierin, ons waardeer elkeen van julle.
Ons is positief en sien uit na 2014. Ons kantore sal gesluit wees vanaf 23 Desember en sal heropen op 6 Januarie 2014. Ons gaan die kort ruskansie gebruik om die ‘batterye te herlaai’.

Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwejaar!
Baie groete
Van ons almal by Toni van Zyl Finansiële Dienste

No comments:

Post a Comment