Monday, July 1, 2013

VERSEKERING: JY MOET ALLE WESENLIKE INSIDENTE AANMELD

This article first appeared in LawDotNews and is reproduced with authority from DotNews and from Visagie Vos Attorneys, tel. 021-5919221 or email visagievos@visagievos.co.za


VERSEKERING: JY MOET ALLE WESENLIKE INSIDENTE AANMELD
           
Jy betaal al jare lank elke maand getrou jou stewige premies aan jou versekeraar. Wanneer jy uiteindelik ‘n eis indien, is dit uiters onsmaaklik as die versekeraar dan weier om uit te betaal. Maak seker dat jy van jou kant af voldoen aan al die terme en voorwaardes van jou versekeringskontrak.


‘n Verlies van R600 000

‘n Versekerde motoris moes onlangs hoor dat hy R608 772 (plus rente en regskostes) slegter daaraan af is. Die Hoë Hof het ten gunste van sy versekeraar beslis dat die afwysing van sy versekeringseis, regmatig was. Die eis het ontstaan as gevolg van ongelukskade aan sy Audi R8 Quattro motorvoertuig. Hy het nagelaat om die versekeraar in te lig oor twee vorige ongelukke waarin hy betrokke was en waarvoor hy nie eise ingedien het nie.


Die betrokke motoris wou op geen stadium eise indien vir die vorige ongelukke nie; die Hof bevind dat dit irrelevant was. Ingevolge die bewoording van sy versekeringskontrak, was hy verplig om die volgende te doen -
  •  “…..inform us immediately of any changes to your circumstances that may influence whether we give you cover, the conditions of cover or the premium we charge” en

  •  “…..report your claim or any incident that may lead to a claim to us as soon as possible, but not later than 30 days, after any incident. This includes incidents for which you do not want to claim but which may result in a claim in the future”.
Die bewoording hierbo is duidelik. Versekering vereis in elk geval die hoogste goeie trou en volledige openbaring en eerlikheid van beide kontrakspartye. Die Hof bevind dat ‘n redelike persoon sou toegee dat ‘n versekeraar moontlik die twee vorige insidente sou in ag neem by die besluit om verdere dekking te verleen en by die bepaling van die gepaste premie. Omdat hierdie wesenlike inligting van die versekeraar weerhou is, bepaal die Hof dat die motoris die bepalings van die versekeringskontrak verbreek het.

Wanneer is inligting wesenlik?

Die bewoording van versekeringspolisse gaan verskil. Dit sal wel soortgelyke klousules as hierbo bevat. Daar kan verskillende interpretasies wees van wat “wesenlik” is. Die vraag is of jy die kans wil neem om later daardeur verhoed te word om ‘n eis in te dien. Die onus sal op die versekeraar rus om aan te toon dat jou versuim om iets aan te meld, wel wesenlik was. Jy wil egter nie later deur ‘n hofproses gaan om hierdie aspek op te klaar nie. Selfs waar jou getroue aanmelding ‘n verhoging in jou premie meebring, is dit steeds beter as wat ‘n substansiële eis van jou op ‘n latere stadium van die hand gewys word.

So wat staan jou te doen?

Wees eerder te versigtig. Meld alle insidente, selfs oënskynlik minder ernstige gevalle, binne die voorgeskrewe tydraamwerk by jou versekeraar aan. Hou ook volledig rekord van hierdie aanmeldings. Onthou dat die hoogste goeie trou, ook volledige openbaring van jou handelinge vereis. Dit is die enigste manier hoe die versekeraar op ‘n akkurate manier die werklike risiko en gepaste premie kan bepaal.

No comments:

Post a Comment