Tuesday, December 1, 2015

Nuusbrief 2015







Geagte kliënte en assosiate                                                                                                        Desember 2015

2015 is amper op ’n einde en dit is weer tyd vir ons jaarlikse nuusbrief. Baie welkom aan nuwe kliënte – dis vir ons ’n voorreg dat u vanjaar by ons aangesluit het. Alle nuwe kliënte is verwysings van bestaande kliënte, en ons is opreg dankbaar hiervoor. (Sien asseblief aangeheg ’n dokument wat Discovery uitgestuur het rakende verwysings; dis interessante leesstof.) Vanjaar het nuwe risiko- en korttermynkliënte ons genader vir advies, en ander kliënte het afgetree of aftreepakkette aanvaar. In sekere gevalle is werknemers net drie dae gegun om te besluit of hulle die aftreepakket gaan aanvaar. Ons het verslae opgestel om dié kliënte by te staan en ’n ingeligte besluit te help neem. Let wel: Dis van kardinale belang dat u as kliënt ons voor aftrede of met die aanvaarding van ’n skeidingspakket kontak vir ’n volledige verslag wat alle finansiële implikasies in ag neem en uitlig.

Beleggings/welvaartskepping
Beleggings/welvaartskepping is die grootste komponent in ons praktyk; daarom bestee ons geweldig baie tyd en energie aan beleggingsbestuur. Omdat beleggings ook vir ons ’n passie is, probeer ons voortdurend die beleggingsbestuurproses verbeter. 2015 was ’n uitdagende jaar vir die markte, met die JSE se indeks van alle aandele wat op ’n jaargrondslag tot en met 30 November 2015 met 3.72% gegroei het. In dieselfde tydperk het die geldmark met 6.28% gegroei. Suid-Afrika is tans in ’n stygenderentekoerssiklus. Dit is goeie nuus vir geldmarkbeleggers, maar dit plaas geweldige druk op diegene met skuld. Dit is egter belangrik om nie te veel fondse in die geldmark te belê nie, want daar is al bewys dat die geldmark nie oor langer termyne inflasie klop nie. Die groeivooruitsigte vir 2016 lyk wisselvallig, en dit is dus belangrik om by u langtermynbeleggingsdoelwitte te hou en nie kortsigtige of emosionele besluite te neem nie. Ons en alle fondsbestuurders beoog om die teikenfondsprestasies oor ’n rollende termyn van 3 jaar te behaal of uit te presteer. Dit impliseer wel daar gaan termyne van wisselvalligheid wees soos wat tans beleef word, maar oor die langer termyne het ons verpakkings steeds hul teikens bereik. Die tabel hieronder dui die netto groei van ons 2016-model aan. 

Risikoprofiel
3-jaarteiken Prestasies
1 jaar
3 jaar
5 jaar
Konserwatief
Inflasie + 2%
8.83%
9.67%
10.19%
Versigtig
Inflasie + 3%
8.10%
10.54%
10.90%
Matig
Inflasie + 5%
8.00%
12.52%
12.72%
Matig aggressief
Inflasie + 7%
14.13%
19.34%
17.86%
Aggressief
Inflasie + 9%
14.24%
19.51%
18.18%
Geldmark

6.28%
5.55%
5.45%
JSE/Alsi 40

3.72%
11.41%
10.87%

Gelukwensings en inspirasie
Baie geluk aan al ons kliënte wat vanjaar hul studie voltooi het, bevorder is en enige ander prestasie behaal het. Ons is trots op julle.
Baie geluk aan Betsie Roux se kleinkind met sy puik prestasie in rugby, en Chris Smit se seun Nico, wat die SA o.18-atletiekspan vir gestremdes gehaal het. Julle is ’n inspirasie vir ons almal. Ons nooi julle hartlik uit om u en u familie se prestasies met ons te deel.

Studie
Deur die jaar het ons personeel verskeie seminare en werksessies bygewoon om seker te maak ons praktyk bly op die hoogte van enige veranderinge in die bedryf sodat ons altyd die beste diens aan ons kliënte kan lewer. Dit is ook in oorstemming met die Raad op Finansiële Dienste (RFD) se vereistes vir deurlopende opleiding (continuous education).

Belastingaanslae
Die meeste aanslae is sonder probleme afgehandel, maar ons het gevalle gehad waar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) eise foutiewelik afgekeur het. In sekere gevalle het dit maande geneem om hierdie foute reg te stel. Hou asseblief in gedagte dat baie van die foute wat inglip met belasting foute van die SAID is en dat ons uit ons pad gaan om dit uit te klaar. Ons het dit onder die SAID se aandag gebring, en hulle het bevestig hulle sal van 4 Desember 2015 af die dispuutresolusieproses uitbrei en verbeter. Stuur asseblief volgende jaar se belastingdokumentasie so spoedig moontlik; dit stel ons in staat om die aanslae vroegtydig in te dien.

Boedels/testamente en regsadviesdienste
Baie dankie aan al die maatskappye vir u kundigheid en persoonlike diens aan ons en ons kliënte. ’n Spesiale woord van dank aan Petri Lourens, ’n senior regsadviseur by Old Mutual.

Hartseer
Voorspoed aan almal wat herstel van ’n ernstige siekte of ongeluk. Ons dink aan die Van Breda-familie, wat ’n geliefde aan die dood moes afstaan. Rita se positiwiteit en blymoedigheid ten spyte van die ernstige siekte is ’n inspirasie en ’n voorbeeld van hoe om voluit te lewe.

Voordele en eise: lewensdekking, ongeskiktheid en trauma (risiko)
Vanjaar het ons praktyk slegs ongeskiktheid- en trauma-eise hanteer. Ons maak slegs gebruik van betroubare produkverskaffers met goeie eisrekords en ’n puik uitbetalingsgeskiedenis, en ons bedank die produkverskaffers wat alle eise 100% uitbetaal het. Dankie aan al ons konsultante en u administratiewe personeel. U werk regtig hard agter die skerms en kry nie altyd voldoende erkenning nie.  
Ons kry gereeld navrae van kliënte aangaande beloftes van goedkoper premies en uitstekende uitkeerwaardes van regstreekse produkverskaffers. Wees asseblief baie versigtig vir hierdie produkte. Versoek skriftelike kwotasies by die produkverskaffers en stuur dit aan ons; ons kan vir u ’n omvattende vergelyking saamstel. Ons het self vergelykende kwotasies (op ons eie lewens) aangevra; die premie vir dieselfde voordele was 32% meer sonder enige uitkeerwaardes.
Die afgelope vier jaar het ons vir een kliënt sewe eise verwerk. Ses is suksesvol afgehandel, en ons is besig met die nuutste eis. Dit beklemtoon weer die waarde daarvan om erkende en betroubare produkverskaffers te gebruik.
Hierteenoor weet ons ook van ’n tragiese geval: ’n eertydse kliënt, ’n gekwalifiseerde ambagsman, het weens finansiële redes sy versekering gekanselleer en uit sy pos bedank. Gevolglik het hy sy groepskemavoordele verbeur. Hy het ons onlangs gekontak met die nuus dat hy sy been verloor het, maar nie meer kompensasie daarvoor kan ontvang nie.

Voorspoed
Beste wense aan almal wat na die buiteland verhuis het, hetsy tydelik of permanent. Sterkte en voorspoed ook aan ons afgetredenes wat nou in ’n aftreeoord woon. Voorspoed met die nuwe fase in jul lewe; ons vertrou julle sal gelukkig wees. Wees verseker dat ons elke tree van die pad saam met julle sal stap.

Korttermynversekering
Verlede jaar het ons genoem van ’n geval waar ʼn vals eis ingedien is. Die eis is vanselfsprekend afgekeur, die eiser se korttermynversekering is gekanselleer en geen ander versekeraar wil hom meer as kliënt aanvaar nie. Wanneer ’n nuwe korttermynpolis uitgeneem of ’n eis ingedien word, moet u dus asseblief seker maak alle inligting is waar en korrek.
Die beleid van ons praktyk is om elke kliënt die beste produk – en nie noodwendig die goedkoopste nie – te bied. Hiermee saam probeer ons steeds sover moontlik ’n mededingende premie met afslag beding, en ons probeer voordurend ons diens aan u as kliënt verbeter en uitbrei. Let ook op die voordele wat ’n adviseur inhou.
Adviseur teenoor regstreekse bemarker:
1.)   Die adviseur werk vir u, die kliënt. Die klerk by die inbelsentrum werk vir die maatskappy en handel in die maatskappy se belang.
2.)   Eise: Die adviseur hanteer die eis en onderhandel waar nodig vir die kliënt; regstreekse bemarkers onderhandel vir hul maatskappy.
3.)   Met ’n adviseur word ’n verhouding opgebou en praat die kliënt altyd met iemand spesifieks. By maatskappye kommunikeer u elke keer met iemand anders. Al ons handelinge en inligting word op ons elektroniese stelsel bygewerk, terwyl u met ’n regstreekse maatskappy telkens dieselfde inligting moet verskaf.
Statistiek toon tradisionele versekeraars handhaaf ʼn eisuitbetalingsverhouding van minstens 70%, teenoor 52% by regstreekse versekeraars. Maak egter steeds seker u is te alle tye voldoende verseker. Dit is ook belangrik dat u alle duur items spesifiseer, en items wat uit die huis geneem word, moet ook gespesifiseer word. Voorbeelde hiervan sluit in u skootrekenaar, iPad, GPS-stelsel en iPod. Selfone, fietse, kontant en sporttoerusting moet ook gespesifiseer word vir dekking.
Die vervangingswaarde van geboue en huisinhoud neem jaarliks toe en motors se boekwaarde moet jaarliks aangepas word. Lees asseblief u skedules noukeurig deur en maak seker alle inligting is korrek. Neem ook kennis van enige bybetalings. Bybetalings kan teen addisionele koste ter syde gestel word. Bespreek dit bloot met ons sou u belangstel.
Kontak ons asseblief indien u ontevrede is met u premie/diens sodat ons die probleem kan oplos. In die meeste gevalle kan ons ʼn plan maak, en ons raai u sterk aan om ons eers te kontak voordat u na ’n ander versekeraar oorskakel.

Vir navrae buite ons kantoorure:
Mutual & Federal                               Tel: 0861 247 365 (Eise, noodgevalle, Swiftcare: padbystand, asook huishoudelike en mediese noodgevalle.)
Tel: 0860 637 373 (Navrae, byvoorbeeld items byvoeg of verwyder of enige ander wysigings.) U sal die polisnommer of die ID-nommer van die polishouer moet verskaf.
Santam                                               Tel: 0860 505 911 (Eise, noodgevalle, SOS, padbystand, asook huishoudelike en mediese noodgevalle.)
Tel: 0860 726 826 (Navrae, byvoorbeeld items byvoeg of verwyder of enige ander wysigings.) U sal die polisnommer of die ID-nommer van die polishouer moet verskaf.
Auto & General                                  Tel: 021 527 8666 (Alle eise, navrae en wysigings.)
Tel: 0860 104 210 (Noodgevalle ná ure.) Onthou, daar is ’n addisionele bybetaling van R2 000 vir ongelukke wat tussen 23:00 en 05:00 plaasvind.

Hersieningsafsprake
In ’n voortdurend veranderde omgewing is dit belangrik om u portefeuljes te hersien en ons is verbind daartoe om halfjaarlikse of jaarlikse afsprake in hierdie verband getrou na te kom. Stuur ook asseblief u groepsvoordele (voordele by die werk) soos u dit ontvang.

Webtuiste
Besoek gerus ons webtuiste, www.tvzfinancialservices.co.za, of lewer kommentaar op ons Facebook-blad. Ons probeer om gereeld nuwe inligting en artikels te plaas. U is ook meer as welkom om u aanbevelings met ons te deel. Indien vriende en familie meer van ons praktyk wil leer, kan u hulle gerus na hierdie blaaie verwys.

Voldoening
Ons voldoening word steeds behartig deur Masthead, die grootste netwerk van onafhanklike adviseurs. Masthead werk nou saam met die RFD deur insette en voorstelle te lewer. In ons jongste voldoeningsverslag was ons slaagsyfer 100%. Dit beteken ons werkswyse voldoen 100% aan die vereistes, en ons is ontsettend trots daarop. Dankie aan almal by Masthead.

 Agter die skerms
Vanjaar het ons talle veranderinge aangebring om ’n beter diens te lewer. Ons rekenaars is opgegradeer, ons het ’n koordlose foon aangeskaf en ’n nuwe internetdiensverskaffer begin gebruik om ’n stabieler verbinding te verseker. Nuwe programme is ook ontwikkel en geïnstalleer. Ons kantore word ook voortdurend opgeknap, en u sou opgelet het ons ingang is nou geleë in Boundaryweg, en nie meer Bluegumlaan nie. Ons nooi u hartlik uit om ons by ons kantore te kom besoek.

Persoonlik
In November het ons deel van die misdaadstatistiek geword; daar is by ons kantore ingebreek. Skootrekenaars en beursies het onder meer in die slag gebly. Danksy ons korttermynversekering is ons nuwe rekenaars ’n dag ná die inbraak afgelewer, en Janneri het ons programme oor die naweek herlaai. Baie dankie vir die toewyding.
Toni het ’n suksesvolle lies-, naeltjiebreuk- en oogoperasie ondergaan. Ongelukkig het ’n hond hom daarna gebyt en moes hy steke kry, maar hy is nou weer gesond en ten volle herstel. Antoni het ’n toonoperasie ondergaan, maar is ook nou weer gesond. Ons kondig ook met trots aan dat die familie gaan uitbrei; Janneri en Antoni se tweede kind sal na verwagting begin Mei gebore word. Janneri sal dus ’n deel van die jaar met kraamverlof wees.
Ten tyde van hierdie nuusbrief het ons reeds al die finansiële teikens vir die finansiële jaar bereik. Ons is nederig en dankbaar en wil ons waardering uitspreek teenoor elke kliënt. ’n Groot dankie aan u almal.

Ons sien uit na 2016 met al sy uitdagings.
Ons kantore sal sluit op 18 Desember en heropen op 7 Januarie 2016. Antoni en Janneri begin weer op 13 Januarie 2016.

Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar!
Baie groete
Van ons almal by Toni van Zyl Finansiële Dienste


No comments:

Post a Comment